As vloerstuipe jou die aapstuipe gee

Vloerstuipe, vloermoere, tantrums… enige ma van ‘n 2-jarige sal presies weet watter horries dit mens kan gee. Hier’s ‘n blitsgids om te oorleef.
Dis ’n toneeltjie wat jy maar alte goed ken: Jou kleuter is verveeld, moeg, knorrig en maak gereed om die moeder van alle vloermoere te gooi terwyl jy in die winkeltou /restaurant /wagkamer ’n plek soek om jou kop in te druk. Jy weet klaar die mense om jou gaan dink jy’s ’n heeltemal onbevoegde ouer….. Vloerstuipe is helaas nie iets wat ’n mens heeltemal kan voorkom nie, maar daar is gelukkig baie wat jy kan doen om dit te beperk en te beheer.
As ons grootmense soms so gefrustreerd raak dat ons goed wil rondgooi, hoe moeilik moet dit nie vir kinders wees om hulself te beheer wanneer hul geduld opraak nie?
Hoekom kry kinders vloerstuipe?
Vloerstuipe is ’n normale deel van ’n kind se ontwikkeling. Dis moeilik vir kleintjies om selfbeheersing toe te pas en hulle weet nie wat om met hul emosies aan te vang nie. Hulle het ook dikwels nie die woordeskat om hul gevoelens uit te druk nie. Dus skree, skop en slaan hulle wanneer hulle gefrustreerd, kwaad en teleurgesteld is.
’n Mens kan nie altyd vloerstuipe keer nie, maar daar is dinge wat jy kan doen om te sorg dat dit nie te gereeld gebeur nie:
 Moenie jou kind winkel toe vat as sy moeg of honger is nie;
 Vloermoere is dikwels ’n manier van aandag soek. Maak dus seker dat jou kind genoeg positiewe aandag kry;.
 Berei jou kind lank genoeg voor die tyd voor as daar ’n verandering in sy lewe gaan wees;
 Hou die omgewing rustig;
 Hou jou kind besig, veral in winkels. Verveeldheid lei dikwels tot vloerstuipe;
 Beplan vooruit en probeer om nie te lang uitstappies aan te pak of jou kind te lank ná slaaptyd wakker te hou nie;
 Probeer by jul daaglikse roetine hou sodat jou kind weet wat om te verwag;
 Moedig hom/haar aan om woorde te gebruik om haar gevoelens uit te druk.
Die storm het losgebars!
Die manier waarop jy vloerstuipe hanteer, hang af van die rede vir die uitbarsting. Hier volg ’n paar redes en hoe jy daarop kan reageer:
Jou kind gooi ’n vloermoer om jou te manipuleer.
Hanteer dit so:
Wanneer jou kind sy/haar wil aan jou wil opdwing, is die beste plan omhom/haar te ignoreer. Erken haar emosie deur byvoorbeeld te sê: ‚Ek sien jy is kwaad, maar die lekkertjies is nou op.‛ As sy aanhou skree, ignoreer haar tot sy ophou. Jy kan in dieselfde kamer bly; moet net nie vir hom/haar kyk nie. Lees ’n boek of doen iets sodat sy kan sien jy gee nie aandag aan hom/haar nie. Onthou, ’n vloermoer werk gewoonlik net as iemand vir jou kyk!
Veiligheidswenk: As jy besluit om die vertrek te verlaat, maak eers seker dat daar niks is wat jou kind tydens sy/haar vloermoer kan seermaak nie. Jy kan ook nie vloerstuipe ignoreer as jou kind iemand anders seermaak of gevaarlike goed rondgooi nie.
Jou kind gooi ’n vloermoer want hy/sy is gefrustreerd.
Hanteer dit so:
’n Frustrasie-vloermoer moet met empatie hanteer word. Help jou kleintjie wanneer jy sien hy/sy is gefrustreerd met ’n taak. So wys jy dat emosies belangrik is en dat jy daar is om te help. Moedig hom/haar ook aan om vir jou te probeer sê wat hy/sy wil hê.
Jou kind gooi ’n vloermoer en lyk of hy/sy haarself gaan seermaak.
Hanteer dit so:
Hou jou kind styf vas tot hy/sy bedaar. Terwyl jy vashou, kan jy iets sê soos: ‚Jy is kwaad, maar jy het beheer verloor. Ek hou jou vas, want ek is lief vir jou.‛ Gewoonlik sal jou kind ná ’n paar minute bedaar.
Jou kind hou aan skree al ignoreer jy hom/haar en al hou jy hom/haar vas.
Hanteer dit so:
Verwyder haar uit die situasie wat haar kwaad maak en gee haar uitsittyd (’n minuut vir elke jaar).
Stilte ná die storm
Wanneer jou kleinding eindelik bedaar het, kan jy weer beklemtoon dat daar niks daarmee verkeerd is om kwaad te wees nie, maar dat julle nou praat oor wat gebeur het en wat julle kan doen om te keer dat hy/sy weer so kwaad word. Beklemtoon dat hierdie tipe gedrag nie aanvaarbaar is nie. Onthou om vir hom/haar water te gee om te drink; al die geskree maak ’n mens dors.
Jou vloermoergids in ’n neutedop
Dinge wat jy glad nie moet doen nie:
 Moenie kwaad word of afgryse toon nie.
 Moenie ingee nie, anders leer jou kind vloermoere werk en hou sy net daarmee aan.
 Moenie probeer om met jou kind te redeneer tydens ’n uitbarsting nie.
 Moenie met straf dreig nie, anders kan jou kind dalk haar woede en frustrasie probeer inhou en dis nie gesond nie.
 Moenie jou kind vergoed as sy opgehou het met die vloermoer nie.
Wat jy moet doen:
 Bly kalm en moenie skree nie.
 Noem jou kind se emosie in ag. Sê byvoorbeeld: ‚Ek sien jy is kwaad‛ of ‚Ek sien jy is gefrustreerd.‛
 Laat die vloermoer homself uitwoed.
 Maak seker dat jou kind hom/haarself nie kan seermaak nie. As jy bang is daarvoor, hou hom/haar vas.
 Moet beslis nie jou kind pak gee nie!
 Kies jou gevegte! Wanneer jy reëls neerlê, besluit wat werklik belangrik is, soos byvoorbeeld: Jou kind móét in die karstoeltjie sit, maar dis nie die moeite werd om hom/haar ’n vloermoer te laat gooi omdat jy vir hom/haar die rooi hemp wil aantrek en hy/sy eintlik die bloue wil dra nie.
Laastens maar die minste nie: Moenie dit persoonlik opneem as jou kleinding ontplof nie. Daar is niks met hom/haar verkeerd nie en jy is nie ’n slegte ouer nie! Vloerstuipe is normaal en deel van grootword.
Vloerstuipe en ouer kinders
Hoewel ouer kinders minder vloerstuipe kry, gebeur dit tog soms, veral as jou kind agterkom dat hy/sy op so ‘n wyse sy/haar wil op ander kan afdwing.
So hanteer jy ’n ouer kind se vloermoer:
 Gee hom/haar duidelik boodskappe oor wat jy verwag. Verduidelik wat sy nie mag doen nie en hoekom nie.
 Wees ’n voorbeeld. Jou kind gaan jou gedrag naboots.
 Moenie ingee as hy/sy in woede uitbars nie.
 Hanteer die vloermoere net soos met ’n kleiner kind. Wees egter versigtig vir die vasdrukmetode, want jou kind is nou groot genoeg om jou te kan seermaak!
 Rus jou ouer kind toe met alternatiewe om van frustrasie ontslae te help raak, soos om in ‘n kussing te skree wanneer hy/sy gefrustreerd is.
 Gee hom/haar die geleentheid om baie aktief te wees. Dit help ook om van ontwrigtende emosies ontslae te raak.
As jou ouer kind uit die bloute weer vloerstuipe kry, kan jy gerus seker maak dat daar nie dalk iets gebeur het wat hom/haar ontstel het nie.
En as Mamma haar geduld verloor?
Hoewel ’n mens dikwels lus is om saam met jou kind ’n vloermoer te gooi, is dit baie belangrik dat jy kalm bly. Jou kind het klaar beheer verloor en dis nodig dat mamma beheer behou.
As julle op ’n openbare plek is, dra jou kind kalm na ’n private plek soos ’n badkamer of jou kar waar hy/sy kan bedaar. As jy nie self kalm kan bly nie en voel jy verloor elke keer beheer, moet jy professionele raad inwin omdat jy jou kind dalk sielkundig kan knou.
Sterkte met die vloermoere! Hoe sosiaal onaanvaarbaar die gedrag ookal is; dit is deel van die emosionele ontwikkeling van ‘n kind en moet dit met begrip en empatie hanteer word.
Vloermoere is deel van die samelewing en verander net van metode hoe ouer ‘n persoon word.
 Jou tiener lê miskien nie meer op die vloer en gil nie, maar slaan die deur met ‘n knal toe – vloermoer!
 Jy los ‘n reeks kragwoorde omdat jy kwaad is vir ‘n ander bestuurder – vloermoer

Close Menu